Mozartfees: Joodse Kapenaar se verhaal vertel

Johnathan Andrews Media Exposure

FLIEKS

Mozartfees: Joodse Kapenaar se verhaal vertel

Deur AJ Opperman 23 Januarie 2018 10:30

The Story Of Lina Amato

Lina Amato

Die verhaal van ’n vrou wat op agt as een van 42 Jode uit die Jodeslagting gered is danksy ingryping deur die Turkse konsul-generaal word in ’n rolprent beskryf wat Saterdag gedurende die Internasionale Mozart-musiekfees in Johannesburg vertoon word.

The Story of Lina Amato, ’n dokumentêr van sowat 48 minute, word om 18:00 gratis in die Linder-ouditrium se Spaceframe-teater op die Witskampus in Parktown aangebied.

Die rolprentvervaardiger Johnathan Andrews het die dokumentêr in samewerking met die Turkse departement van buitelande sake en die Turkse Ambassade vervaardig. “Ek het haar verlede jaar ontmoet, maar eintlik die vorige jaar al van haar bewus geword. 27 Januarie (ook Mozart se verjaardag) is ook die dag waarop die Joodse slagting internasionaal gedenk word en Lina, wie se ma 'n klavieronderwyser was, het van kleins af ook klavier gespeel. Die sinchronisiteit was daar,” sê Andrews, wat gereeld foto’s en video’s van die Mozartfees neem.

The Story Of Lina Amato

Die Turkse konsul-generaal Selahattin Ülkümen.

“Ek het daarom gedink ek wil hierdie storie graag tot die fees bydra. Ek het Richard Cock, feesdirekteur, gevra of die rolprent vanjaar deel kan uitmaak.” Die fees se tema vanjaar is Contrasts & Contradictions.

In ’n rare wending het die Turkse konsul-generaal Selahattin Ülkümen 42 Jode in 1944 gedurende die Tweede Wêreldoorlog gered.

“Dit is die verhaal van iemand wat deur so ’n ontbering moes gaan,” sê Andrews. “Lina vertel ook dat sy as Jood eintlik deur ’n Moslem en ’n Christen destyds gered is. As jy dieper in haar storie gaan, dan is dit eintlik ’n bietjie hartseer dat sy nie haar musiekloopbaan kon voortsit nie. Sy het gehoorprobleme opgetel weens die bomme en ontploffings wat sy as ’n jong kind beleef het. Die rolprent eindig ook met haar wat ’n uittreksel uit ’n komposisie deur Chopin speel.”

The Story Of Lina Amato

Lina Amato as jong meisie.

Die rolprent bevat geen beeldmateriaal van die verwoesting tydens die oorlog nie.

Dit bestaan grootliks uit die onderhoude wat met drie mense gevoer is: Amato, Richard Freedman, direkteur van die Suid-Afrikaanse Jodeslagting en volksmoord-stigting en Elif Comoglu Ulgen, Turkse ambassadeur in Suid-Afrika.

Die rolprent bevat geen verteller (voice over) nie. “My hele idee was dat ek nie met ’n vertelstem die kyker met my eie gevolgtrekkings of my siening wil lei nie. Dit moes eerder suiwer uit die monde kom van die drie mense met wie onderhoude gevoer word,” sê Andrews.

Bykomende beeldmateriaal bestaan uit foto’s van Amato uit haar jeug en so meer.

Sy woon reeds sowat tien jaar in Kaapstad nadat sy van Zimbabwe hierheen verhuis het. Haar familie het kort na die Tweede Wêreldoorlog na die destydse Rhodesië (vandag Zimbabwe) geëmigreer, ’n stap wat hulle al reeds voor die oorlog wou neem, soos ander familie van hulle, maar uiteraard het die Tweede Wêreldoorlog dit belemmer.

Besoek johnathan-andrews.com, join-mozart-festival.org of ja-inl.com en https://unitedworldnation.org/ vir meer inligting.

’n DVD van die rolprent sal ook tydens die geleentheid te koop wees. Dit kan ook aanlyn gekoop word. Kyk hier na die lokprent van die dokumentêr: https://www.youtube.com/watch?v=At1v4p7zg3Y&feature=youtu.be
https://unitedworldnation.org/product/the-story-of-lina-amato/ or https://goo.gl/gDoXCV

Mozartfees: Joodse Kapenaar se verhaal vertel

Deur AJ Opperman 23 Januarie 2018 10:30

https://www.netwerk24.com/Vermaak/Flieks/mozartfees-joodse-kapenaar-se-verhaal-vertel-20180122

Leave a Reply